Liewe Tannie Marie

Liewe Tannie Marie

My ma laat weet my die middag dat tannie oorlede is. Die skok was groot en my hart het in baie klein stukkies gebreek. My eerste gedagte was, wie gaan na oom Dougie kyk en wat van al die kindertjies en toe raak dit stil binne my.

Tannie was vir 32 en ‘n half jaar (‘n half want in November (2018) sou dit 33 vir my gewees het) deel van my lewe. Tannie het my doeke geruil, my trane af gevee, luise uit my hare uit gekam, my opgepas wanneer ek siek was, gekyk dat ek al my kos eet (dit was ‘n stryd en ek het so baie raas gekry) en elke keer wat ek “ontslae” geraak het van ‘n bakkie kos, maar net weer ingeskep en my soos ‘n valk dop gehou.

Ek onthou die lekker beskuit onder in die lou oond en dat ek altyd die grootste stuk uitgekies het as padkos huistoe. Dit was net ‘n paar meter, maar mens het jou krag nodig gehad.

Ek onthou hoe almal altyd om tannie se bene gesit het wanneer tannie Santa Barbara gekyk het en ons moes tjoepstil wees want anders kon tannie nie hoor nie.

Wie kan ook die stryd vergeet vir ‘n heel Marie koekie. Dan kla ons want die Marie koekie is gebreek en ons wil elkeen ‘n heel een hê, dan sê tannie net “eet, dit gaan elk geval gebreek in jou maag”.

Ek het soveel af-tone gehad van op die teer hardloop en speel, dan kom tannie met die blik Mecurochrome en spuit daai toon bloed rooi.

“Dit brand tannie!”,

“Ag is nie man, jy verbeel jou”-tannie Marie.

Brand of nie, die toon was reg ‘n paar minute later.

Ek het altyd met verwondering sit en kyk hoe tannie die groen boontjies kerf. Vinnig en sonder om ooit ‘n vinger raak of af te sny. Ertjies ook. Rou ertjies is dan so lekker om te eet. Tannie moes net keer of ons eet alles op.

My gunsteling middagete was altyd spaghetti met baie tamatiesous. Hmmm, dit was altyd lekker.

Hoe ouer ek geword het, hoe meer het ek tannie waardeer. Ons het mekaar in later jare nie baie gesien nie, maar dit was lekker om af en toe in te val vir ‘n hallo en geselsie en tannie was altyd bly om my te sien. Die drukkies was die beste!

Tannie was daar op my 21ste verjaarsdag en op my troudag. Toe die laas genoemde tot ‘n einde kom was tannie daar vir my ouers.

Tannie Marie jy ‘n sterk, vriendelike vrou. Altyd ‘n glimlag in die oë en omgee vir ander. In die laaste jaar het dit sleg gegaan, maar tannie het nooit gekla nie.

Ek onthou vir tannie Marie as liefdevol, vriendelik, sterk, streng, maar sag.

Ek gaan tannie mis. Rus sag tannie Marie. Dankie Here dat tannie Marie deel van my lewe kon wees.

Elré

2 thoughts on “Liewe Tannie Marie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: