Liewe Tannie Elsa

Liewe Tannie Elsa

2024 gaan altyd die jaar wees wat ek onthou, en waar ek geleer het wat regte ‘grief’ is.

Somtyds slaan dit nog my asem weg-soos vandag.

Ons het dié lekkerste kuier gehad op ‘n Sondagmiddag met die hele familie en minder as ‘n week later is tannie weggeruk. Netso. Sonder waarskuwing. Hoe hanteer mens dit? Wanneer gaan die vrae ophou en wanneer kom die aanvaarding. Wanneer gaan die oomblikke verby gaan waar ek na my asem snak, en dit weer soos ‘n skokgolf oor my kom?

Ek kan hier aangaan en 100e vergelykings nog neerskryf oor die erge mis en hartseer wat ek in my hart het, maar nee, dit is nie wat ek gaan doen nie. Ek gaan eerder tannie celebrate vir die merkwaardige mense wat tannie was en altyd sal bly.

Ek het tannie eers ontmoet in 1985. Ek kan nie dit onthou nie, maar my ma-hulle kan. Van daar af was tannie my ander mamma.

Ek onthou as kleinkind het ons Desembers in George bymekaargekom om Kersfees by ouma Emma se huis te vier. Die opgewondenheid om julle te sien was tasbaar. Daar was altyd soveel lag en drukkies.  Dit was altyd sleg as ons weer moes ry, want dan moet ons vir eers totsiens sê tot julle weer in die Kaap kom kuier (Graaf Reinette is ‘n entjie van ons af).

Maar toe verhuis julle na Touwsrivier – ‘n bietjie nader. Oe en al die naweke wat ons in die kar gespring het en op Touwsrivier kom kuier het in die koshuis. Ons het een keer op die wipplank gespeel by die koshuis en ek weet tot vandag toe nie hoe nie, maar ons het ons bene rou geskaaf en tannie se oplossing was epson sout of koeksoda – ek kan nie lekker onthou nie – in die bad. Dit was seer maar dit het gehelp – hoekom dan nou nie. Tannie Elsa weet mos van.

Ouma Emma is oorlede (toe ek in standerd 4 was) en ek onthou hoe tannie Elsa vir my en Basti styf vas gedruk het en gesê het “toemaar julle, dit is okay”.

1997. Dis die jaar wat julle Brackenfell toe getrek het. Ons, dit is nou ek en Hentia, kon nie ons opgewondeheid in toom hou nie! Nou is julle hier en ons gaan julle soveer meer sien!

Saterdae het ek my ma gesmeek om na ons  dorp  toe was om by Tannie Elsa te stop en te gaan tee drink. Hoeveel keer het ek gebel en vir Basti gesê “sê jou ma-hulle moet kom tee drink”, want tannie Elsa sal my nou beter laat voel.

Ek onthou Saterdae wat tannie en Rentia koek gebak het en daai poffertjies! Moet nie die poffertjies vergeet nie! Ek het ‘n hele bak gekry sonder room sodat my ma spesiaal suikervrye weergawes vir my kon maak. En die sponskoek! My goeiste! En moet nie vergeet van tannie se yoghurt yskastert nie! Die reseppie is veilig in my resepteboek ingeplak.

Tannie was by elk van my verjaarsdae wat by my ma se huis gehou is. Ek het ook elke jaar ‘n sms of later dan ‘n WhatsApp gekry met ‘n gelukwensing.

Ek onthou ook ‘n aand wat ons almal uitgery het om vuurwerke te gaan kyk het van die berg af. Die musiek moes ons oor die radio luister. Dit was mooi!

In 2015 het my huwelik tot ‘n einde gekom. Ek is sak en pak terug huistoe. Die skok was groot en die hart baie seer. Nie lank na ek terug gekom het nie stap die Klue’s by ons deur in en tannie Elsa gee my ‘n bossie blomme. Net daar loop die trane van soveel dankbaarheid en liefde. Daai drukkie en blomme  sal ek nie vergeet nie.

Rentia reël middagetes en kuiers en almal moet voorstel wat op die tafel moet wees. My enigste request was ALTYD, tannie Elsa se Trifle. Altyd! Ons het verlede jaar die Kersete gemis en ek was baie teleurgesteld. Ek het my ma gevra dat hulle asseblief tog vir my ‘n skeppie van die trifle uitskep en hou. Toe ons by my ma-hulle kom het Tannie Elsa nie wat gedoen nie, ‘n vars triffle in ‘n klein roomys bakkie vir my gemaak want “dit gaan waterig raak as dit staan”. Ek het geraas en gesê dat dit was nie nodig nie en tannie het net geskryf “dis ‘n groot plesier. Geniet dit”. Tannie, ek het baie groot en vinnige happe gevat!

My ma het onlangs kaste reg gepak en op ‘n boekkie af gekom wat tannie-hulle vir Kersfees in 1992 vir my gegee het. Die begin van my liefde vir lees. Dit sal ek altyd koester en sal ‘n spesiale plekkie in my boekrak hê.

Tannie Elsa.

Ek sal tannie se lag onthou.

Ek sal onthou hoe tannie altyd met die hande gepraat het.

Ek sal altyd die lekker drukkies onthou.

Ek sal altyd onthou hoe vurig tannie altyd oor die skoolkinders gepraat het.

Ek sal onthou die stories van die juffrou wat tannie vir die skoolkinders was.

Ek sal altyd tannie se liefde vir sing (en die koor) onthou.

Ek sal altyd onthou hoe lief tannie vir tannie se familie was.

Ek sal altyd onthou tannie se liefde vir RSG en die radio wat altyd gespeel het in die kombuis.

Ek sal onthou hoe tannie somtyds gesit en net almal dop gehou het.

Ek sal onthou hoe lief tannie vir die kleinkinders is.

Ek sal altyd die warm middagetes onthou wat na skool vir my gewag het in Rose Straat.

Ek sal altyd die na-kerk tee en koek en tee in Rose Straat onthou.

Ek sal altyd onthou die pizza aande by my ma-hulle se huis.

Ek sal altyd die kuiers op Towsrivier in die koshuis onthou.

Dankie vir die mooi mens met die sagte hart wat tannie vir ons was Ek is baie lief vir tannie en verlang regtig vreeslik baie.

Al my liefde, Elré

Tannie Elsa,

Hulle sé engele is orals rondom ons, maar tannie was n ware Engel. Niemand het so baie liefde en geduld om te gee soos tannie nie. 

Tannie het op die koue winters oggende vir ons in Touwsrivier Tastywheat gemaak, tot vandag toe is dit een van my gunsteling; en as dit warm was, pienk Nesquik. Twee goed wat my nog altyd en verewig aan tannie sal laat dink.

Tannie het soveel lewens geraak maar tannie was my enigste tannie wat saak gemaak het en bestaan het vir my.

Toe my ouers met COVID in die hospitaal was het ek die Vrydagaand verby Anina se huis gery en gesien julle is almal daar. Ek het net ingetrek en gestop. Min wetend hoe moeg en alleen ek gevoel het. Ek wou braaf wees want ek was die enigste een wat kon help omdat ek reeds die virus gehad het en nie weer so gou kon kry nie. Ek het ingekom met die hoop van blydskap maar een kyk na tannie en tannie het geweet. Die trane, seer en moeg het net uit gespoel toe tannie my vashou en nie laat gaan nie. Tannie het geweet sonder om te vra dat als nog dieselfde is maar tannie het geweet dit is my hart wat net nie meer kon nie. Tannie en Rentia het my vasgehou tot al die trane klaar was en eers toe die rustigheid oor my spoel wetend ek is by my familie, het julle my laat gaan. Dit was n oomblik wat ek so naby aan my hart koester want ek het geweet, wat okal gebeur, ek het my tannie en my familie. 

Toe kon ek vir almal hallo sé. Tannie was altyd daar, vir almal, en die familie. Niks is ooit te veel gevra as vrou, ma, suster, ouma en tannie nie. 

Ek kan oneindig skryf oor tannie want tannie het soveel goed in hierdie wereld gebring. Soveel lewens geraak en altyd als aangepak met die grootste liefde en ondersteuning. 

Ons het die week voor dit n familie ete gehou. Rentia het geweet ek gaan deur n moeilike tyd en net besluit ons hou familie ete die Sondag en klaar. Dit was die beste familie ete, tannie het nie al die antwoorde gehad nie en ook nie gevra nie, maar my weereens verwelkom met die omhelsing en drukkie wat alle seer kon laat verdwyn. 

Ek mis tannie so baie en elke keer word tannie se teenwoordigheid gemis. Ek hoor tannie se lag en stem nog altyd. 

Dankie vir die absolute engel-mens wat tannie was, en dankie dat tannie ons agterlaat het met my niggies, nefie en klein kinders wat almal tannie se liefde dra en elkeen hul eie unieke stukkie liefde van tannie deurskyn.

Tannie was te vroeg geneem, maar meer tyd sou nie kon opmaak vir die leemte wat tannie los nie. 

Ons is dankbaar om te weet tannie is by ons Hemelse Vader en ek weet tannie se engel stem sing net van liefde en n klank wat ek nie kan wag om eendag weer te hoor nie. Tot ons mekaar weer sien, 

Al my liefde, Hentia

Leave a comment